Natal News February 2025
Greetings and salutations from the Koevoet Veterans League – Natal Region
KOEVOET MUUR VAN HERINNERING:
Die Koevoet Muur van Herinnering se totstandkoming sou eers 24 jaar na Koevoet se ontbinding in 1989 n werklikheid word. Ondertussen moes daar eers baie water onder die brug deurloop.
Kortliks: Na amper n dekade van suksesvolle teeninsurgensie operasies teen Swapo in SWA agter die rug word die finale raamwerk vir SWA se vredes ooreenkoms op 22 Desember 1988 in New York onderteken. Koevoet se toekoms is van toe af reeds in die weegskaal. Die implimenterings datum van die vredesplan is vir 1 April 1989 bepaal maar ons almal weet hoe daardie eerste dag en die dae daarna verloop het. Swapo maak droog en skend die internasionale vredes ooreenkoms en skietstilstand. Koevoet moet daarna die kastaaings uit die vuur krap en ondanks die feit dat hulle die situasie beredder en die vredesproses weer op dreef kry word hulle tydelik tot hul basisse beperk. Dit terwyl Swapo hulle self van alle blaam distansieer en Koevoet wyd en syd aangekla word dat hulle eintlik die vark in die verhaal is. Die skrif was aan die muur en hierna loop die uurglas vir Koevoet stelselmatig leeg. Die finale spyker in Koevoet se kis kom op 16 Augustus van dieselfde jaar toe die SWA Administrateur Generaal onder politieke druk swig en Koevoet finaal aan operasionele diens onttrek. Kort daarna kom die demobilisasie van die Spesiale Konstabels aan die beurt wat teen einde Oktober afgehandel word. Die verkiesing volg met die finale uitslag op 14 November in Swapo se guns. Selfs Piet Hand se smeek bede dat die oorlog nie moet ophou nie was puur verniet, Koevoet se werk in SWA was klaar. Die lede moet oppak en huiswaarts keer. Reelings om SAP eiendom na Pretoria en SWAPOL eiendom na Windhoek af te voer word met ontstellende nuus onderbreuk. Die SA Regering het n totale omekeer gemaak en verbreek hul vorige belofte aan die Spesiale Konstabels. Hulle mag nie meer na die Republiek verhuis nie. Terwyl hulle SAP makkers van die afgelope 10 jaar pak en drupsgewys huiswaats begin keer moet die getroue “Buddies” agterbly, uitgelewer aan die nuwe Namibiese regering wie hulle ook nie baie goedgesind is nie. Begin Januarie 1990 is al die SAP Koevoet lede so te se terug in die Republiek. Die laaste radio berig vanuit die ZULU 1 opskamer in Okave sou stellig “KOEVOET UIT” gewees het!
Maar Koevoet was nie heeltemal “uit” nie en geensins gereed om in vergetelheid te verdwyn nie. Hulle is reg vir die tweede kolf beurt. Kort na die Genl. se aftrede vergader n groepie voormalge Koevoetlede op Hekpoort. Hulle stig n komitee met die aanvanklike doel om samehorigheid onder die teruggekeerde lede te bevorder deur o.a. sosiale byeenkomste te reel waar daar weer soos in die ou dae lekker saam gekuier kon word. Sosiale bedrywighede deur die voormalige Koevoetlede vorder fluks met so paar stampe en stote hier en daar tot teen die einde van 1998. (Die behoefte om in die toekoms, op een of ander manier, op een of ander plek Koevoet se gesneuweldes in die operasionele gebied te vereer was toe al onder bespreking.)
In 1999 word n Nasionale reunie in Bloemfontein gehou wat soos gewoonlik goed bygewoon word. Gedurende die geleentheid stig hierdie groep geinspireerde voormalige SA Polisie en SWA Polisie lede wie tussen 1979 en 1989 in die operasionele gebied van SWA diens gedoen het die KOEVOET BOND. Nog n paar jaarlikse reunies vind hierna plaas maar teen die middel 1990’s water aktiwiteite af en kom bedrywighede basies tot n stilstand. Gedurende laat 2011, vroeg 2012 herleef die nuutgestigde KOEVOET VETERANE BOND onder leiding van n nuwe komitee.
Een van die eerste groot projekte wat die nuutverkose VETERANE BOND Bestuur hierna aangepak het was die beplanning van n Koevoet Muur van Herinnering. Vir hierdie doel is daar suksesvol met die direksie van die Voortrekker Monument en die Erfenisstigting in Pretoria onderhandel vir n perseel in die “tuin van beelde” wat op 2 Februarie 2012 goedgekeur is.
Die nuwe bestuur het ook nie op hul louere gerus nie en vir hulself n uitdagende doelwit gestel om reeds teen April 2013 die eerste byeenkoms daar aan te bied. Hierdie tamaai onderneming moes dus summier en in alle erns begin. Gen. Dreyer spit die eerste sooi vir die Muur op 2 Mei 2012. Met minder as n jaar tot die komitee se beskikking word die voltooide Koevoet Muur van Herinnering op 6 April 2013 deur die eenheid se voormalige bevelvoerder Lt. Generaal “Sterkhans” Dreyer by die VTM onthul. Die gegrafeerde name van 165 Koevoet lede wie hul lewens in die SWA operasionele gebied opgeoffer het is op die voorkant van die muur verewig. Die woorde “Ons sal Onthou” ‘We will Remember” eindig die naamlys op die laaste paneel. Voor die muur pryk die beelde van twee spoorsnyers, druk besig om spore te soek. Hierdie verering van die ontslape Koevoet lede asook die April 1989 skermutselinge in SWA word daarna n tradisie wat jaarliks gedurende die begin van April by die VTM plaasvind.
Daaropvolgende Koevoet VETERANE BOND Bestuurs Komitees het ewe eens met ywer voortgebou op die grondslag wat voorheen daar gestel was. Die doelwitte van die Bond is intussen bereik en word deurlopend nagestreef. Oor die jare heen is verskeie projekte by die muur aangepak. Onder andere is die agterkant van die Muur omskep om die name van lede wie sedert 1990 die lewe in die RSA gelaat het op geborgte graniet blokkies te verewig as n fondsinsamelings projek. Addisionele plaveisel, tuine en verbeteringe aan die sitplek area versier die terrein om die Muur. Vier voormalige spoorsnyers van Vingerkraal is as sekuriteits wagte by die VTM aangestel. Duidelike aanwysings om besoekers na die Muur te lei is in plek. n Koevoet gedenktuin vir ontslape Koevoet lede se oorskot word langs die Muur van Herinnering beplan en dalk is daar ook nog n Koevoet museum op die horison?
Die Koevoet Veterane Bond vereer die vader van die eenheid, Lt. Generaal Dreyer op 3 April 2021 deur die onthullng van sy borsbeeld reg langs die Muur van Herrinnering met die name van die lede wie onder sy bevel in SWA omgekom het. Die Generaal is op 1 November 2015 oorlede en sy oorskot rus vandag in die VTM se gedenktuin, slegs n klipgooi van die Koevoet Muur af.
Die Koevoet Bond het destyds in hulle wysheid 11 Januarie 1979 as die amptelike Koevoet Stigters dag verklaar. Op 9 April 2022 word n gedenkplaat ter ere van die vyf stigterslede by die Muur onthul tydens die jaarlikse byeenkoms. Hierdie lede se gades asook die groepie baanbrekers wie reeds vroeg in 1979 aangesluit en grootliks saam tot die eenheid se aanvanklike ontwikkeling bygedra het verdien spesiale vermelding. Koevoet se sukses verhaal behoort egter oplaas aan elkeen wie gedurende die Koevoet jare n bydrae tot die eenheid se ontwikkeling en sukses gemaak het.
Die gebruiklike 2023 herdenkings byeenkoms, vaandel en kransleggings seremonies is dan ook inderdaad hierdie jaar n baie spesiale geleentheid wanneer die onthulling van die Muur tien jaar gelede op 8 April gevier gaan word. (2013-2023). Soos in die verlede is verskeie ere gaste en ander veterane organisasies genooi om die geleentheid by te woon, n krans te le, aan die vaandel seremonie deel te neem en net om sommer lekker saam te kuier. In die toekoms kan die naweek moontlik ook gepaard gaan met n Nasionale Koevoet reunie, gholfdag en wie weet, miskien word die geleentheid met n formele dinee afgesluit.
So terloops, Koevoet Stigtersdag, 11 Januarie 1979 is soos gewoonlik weer die afgelope Januarie (2023) gevier, 44 jaar nadat Gen Dreyer op Oshakati aangekom het. Na tien jaar getroue diens in die operasionele gebied moet Koevoet SWA einde 1989 agterlaat. Sederdien verloop n verdere 33 jaar waartydens die politieke landskap in Suid Afrika ingrypend verander. Terrugekeerde Koevoet lede word genoop om onder allerlei toestande aanpassings te maak en nuwe kwessies aan te durf. In Januarie 1990 arriveer n groep voormalige Koevoet Spesiale Konstabels op eie stoom in Pretoria en pleit om bystand by hulle eertydse kollegas. Uit dankbaarheid vir hulle bydrae in SWA en om humanitere redes word hulp verleen. Die afgelope 23 jaar het egter nie vir hulle almal n gelukkige einde gehad nie. (Maar dit is n vertelling vir n ander dag.) Die KOEVOET BOND is gedurende 1999, nou reeds 24 jaar gelede gestig. Die “versoolde” Koevoet VETERANE BOND vernuwe die organisasie in Januarie 2012. Deur dit alles het daardie eerste byeenkoms op Hekpoort die grondslag gele vir die totstandkoming van n kerngesonde VETERANE BOND en die verwesenliking van n Muur van Herinnering wat vanjaar tien jaar oud is. (2013-2023) Die Muur omarm vandag al die bovermelde mylpale. Hierdie Muur by die VTM is ons erfgoed, simbolies van Koevoet se verlede, hede en toekoms.
Gedagtig aan Poppie dag wat steeds 104 jaar na die vredes ooreenkoms van die Eerste Wereld Oorlog op 11 November 1918 nougeset herdenk word, wonder mens onwillekeurig oor die toekoms van die Muur en Koevoet se nalatingskap. Die Koevoet Junior Bond groei huidig van krag tot krag. Durf ons dus hoop dat die Koevoet nageslag asook die vriende van die Bond in die toekoms, soos met Poppie Dag, steeds elke April by die Muur van Herinnering sal byeenkom om Koevoet se erflating te herdenk?
Die idee en versiendheid om die Muur van Herinnering op te rig is ongetwyfeld die heel kosbaarste erflating wat Koevoet lede kon ontvang. Soos destyds met Koevoet se stigting het die “Bouprojek Span” met groot vasberadenheid, deursettingsvermoe, frustrasie en baie geduld die oprigting van die muur beplan en deurgevoer. Daarvoor verdien iedereen wie by die Muur se beplanning en oprigting betrokke was, n aandeel daarin gehad of op een of ander wyse gehelp het ons almal se hoogste agting en waardering.
Saluut! Groetnis, Willem.
Take care out there.
Groete van huis tot huis.
Dave
